CORAM DEO GEMEENTESENTRUM
H/v Lucas- en Michaelstrate, Risiville
Posbus 263105, Drie Riviere, 1935
KONTAKTE:
Soma le Roux: 016 4231502
Floris Knouwds: 016 4231205/0829272575
Coram Deo
Die NG Gemeente in Risiville, Vereeniging
Mense verskil van mekaar. Ook wat die belewing van hulle geloof aanbetref. Sommige mense soek stilte en gewydheid. Ander soek ‘n “happening”. Nog ander soek net die nabyheid van ander gelowiges. Dis hierdie verskille in belewing wat benoem word met die woord “spiritualiteitstyle”.
In Coram Deo is ons baie bewus daarvan dat spiritualiteitstyle verskil. Daarom moedig ons lidmate aan om oop te wees dat mense (byvoorbeeld) aanbidding verskillend kan doen. Party doen dit “bedeesd” en ander uitbundig. Ons wil so ver as moontlik ruimte laat vir alle vorme van geloofsbelewing. Sodat jy met vrymoedigheid ‘n belewenis saam met die Here kan hê wat vir jou voel asof dit pas. Selfs al verskil jou styl van ander s’n.
Tog is dit ook so dat ons as gemeente ‘n eie kultuur ontwikkel het: informeel, kuier-kuier, ligter liedere, intensiewe lering, “in your face” prediking, ensovoorts. En hierdie kultuur sal dit noodwendig vir sommige gelowiges moeilik maak om deel van Coram Deo te word. As jy stilte en alleen-wees soek, sal die tafels en kuiery in die erediens dit vir jou ongemaklik laat voel. En as jy nie gemaklik en tuis voel in die manier waarop ons dinge doen nie, sal jy nie die volle waarde vir jou geloofslewe kan put uit Coram Deo se manier van doen nie.
Daarom is stap 1 om sommer net saam met ons te aanbid en te kuier. Sommer vir ‘n hele paar keer. Sodat jy (selfs al is ons manier effens vreemd) tyd kan kry om aan te voel of jy hier gemaklik sal kan word en/of dat ons manier jou geloof sal kan verryk en verdiep. NA ‘n paar keer s ekuier, moet jy dan vir jouself vra: “Voel ek gemaklik by Cortam Deo? En sal ek in Coram Deo se manier van doen ‘n tuiste kan vind wat voel of dit pas?”
En as jou antwoord JA is, is dit tyd om die tweede stap te neem.
Só kan jy deel word van Coram Deo…
STAP 1: Kuier by Coram Deo… en kyk of jy by ons ‘n tuiste kan kry


“Waaroor gaan ‘n gemeente nou eintlik? Waarmee is en moet ons besig wees?” Dis hierdie vrae wat die leierskap van Corram Deo vir hulleself moes uitsorteer. Veral omdat dit ‘n gemeente help om doelgerig koers te hou as hulle hul “core business” verstaan.
Hoewel dit mag lyk of die antwoord op hierdie vraag ooglopend is, het die leiers eers na baie gesprekke ‘n duidelike antwoord kon formuleer. Die “core business” van Coram Deo is geloof. Dit gaan vir ons ten diepste oor die totstandkoming van egte (ware) geloof, die ontwikkeling of groei in gelof en die praktiese uitlewing van geloof.
Met hierdie fokus in gedagte is die visie van Coram as volg geformuleer:
Ons doel is om jou te begelei op ‘n pad waardeur jy jou verbind tot en gevestig word in…
- ‘n Lewende verhouding met die Here van jou lewe;
- ‘n Groeiprogram wat jou geloof verdiep en jou lewe vernuwe;
- Betekenisvolle,ondersteunende verhoudings met ander Christene; en
- ‘n Persoonlike bediening waardeur jy die gemeente help op- en uitbou
Hiermee sê ons dat ons in Coram Deo glo dat die Here ons geroep het om gelowiges (jou ingesluit) te ontwikkel en te bemagtig sodat elke gelowige (met sy/haar unieke gawes en vermoëns) ‘n unieke bydrae kan maak tot die op- en uitbou van die kerk van Christus.
Dís ons roeping. Dis waarmee ons wil besig wees. En ons glo dat hierdie visie/fokus tot gevolg sal hê:
- Dat die gemeente sal sterker word,
- Dat die wêreld sal bereik word en
- Dat die Here sal verheerlik word.
Ons wil gelowiges opbou om mense te wees wat ‘n impak in hulle eie omgewing maak en deur aktiewe, meetbare bedieninge die gemeente help opbou.
Die vraag wat jy moet uitsorteer, is: Rym hierdie visie met die Woord en kan jy jou daarmee assosieer? Indien jou antwoord ja is, is jy reg vir stap 3 ind ie proses om deel te word van Coram Deo.
STAP 2: Kyk of jy kan identifiseer met Coram Deo se fokus en visie
Daar is minstens 3 redes hoekom dit belangrik is dat jy tog formeel of amptelik deel word van ‘n gemeente:
- Die Bybel wys dat gelowiges hulleself reg van die begin af geïdentifiseer het met spesifieke, plaaslik gemeentes. En dat hulle dáár opgebou en uitgedaag is om toegewyde medewerkers in die opbou van die kerk van Christus te wees.
- Die leiers in ‘n gemeente moet weet wie aan die gemeente behoort sodat hulle dit in hul beplanning in ag kan neem. En natuurlik sodat hulle weet met wie om te kommunikeer.
- Ervaring wys dat ‘n keuse vir lidmaatskap ‘n beslissende oomblik in baie mense se geloofsreis kan wees. Dit bied ‘n geleentheid om opnuut ‘n verbintenis te maak wat jou uit die wegspringblokke kry of wat jou verbintenis aan Christus verdiep.
Wanneer jy dan besluit om lidmaat te word, werk dit soos volg:
- Jy kry by die gemeentesentrum die vorm waarop jy aandui dat jy lidmaat van die gemeente wil word. Nadat jy dit voltooi het, plaas jy dit in die kollektebord of besorg dit by die kerkkantoor.
- Sodra die aansoekvorm ontvang word, word jou lidmaatskap van ander gemeentes af aangevra en word jy (sodra ons dit ontvang het) formeel lidmaat van die gemeente.
- Nadat jou inligting ontvang is, sal iemand by jou besoek aflê om te gesels oor die visie, missie en unieke karakter van die gemeente. In hierdie gesprek sal jy ook gevra word om skriftelik aan te dui dat jy instem met die visie van die gemeente en dat ons jou oor persoonlike jou geloofslewe mag gesels.
Deur hierdie prosedure word jy amptelik op die register van Coram Deo se lidmate geplaas. Ons sal dan vanuit die kerkkantoor met jou kommunikeer. Ons sal van ons kant af maandeliks aan jou ‘n gemeenteblad (Geesdrif ) PLUS jou koevert vir jou dankoffer PLUS jou kwitansie vir jou vorige maand se bydrae stuur.
(PS: Indien jy na die gesprek besluit om nie formeel lidmaat van Coram Deo te word nie, sal ons jou help om ‘n buurgemeente te vind waarin jy wel ‘n tuiste sal kan vind en waar in jou unieke behoeftes voorsien kan word.)
STAP 3: Doen die admin ding… en word amptelik lidmaat


Dis tog goed om te weet hoe dinge in Coram Deo werk. Dan kan jy net makliker tuis raak in hierdie familie van Christus. Daarom enkele opmerkings wat kan help:
- Coram Deo is ook maar soos ander gemeentes. Ons is al so gemaklik met mekaar dat ons soms vergeet om nuwe lidmate doelbewus en aktief te help tuis maak. Daarom wil ons vra: Wurm jouself in! Drink op Sondae na die erdiens saam tee en maak kennis met van die lidmate. Maak ‘n kuier afspraak met die leraar en leer hom ken. Bied aan om te help waar jy kan. Alles net om jouself aktief tuis te maak tussen en saam met die mense van Coram Deo.
- Wanneer dit by die versorging van lidmate kom, dink ons ietwat anders as ander NG Gemeentes daaroor. En die grootste verskil is dat ons glo dat jy persoonlik verantwoordelik is om najou geloofslewe te kyk en seke rte maak dat dit dinamies en sterk bly. Daarom is die leiers van die gemeente verantwoordelik om toe te sien dat daar geleenthede is wat jy kan gebruik. En hulle organiseer aktiwiteite wat hierdie doel dien - aktiwiteite soos eredienste, Tienerfokus, Kinderkerk, Geloofsgim, seminare, indabas, vroue- an mannekampe, preekreekse en opleidingsgeleenthede. Jy moet egter seker maak dat jy dit die beste benut. Dis jou verantwoordelikheid. En as jy ‘n spesifieke behoefte het waarin nie voorsien word nie, kontak jy die leraar en vra dat hy moet help.
- Die gemeente word ook versorg deur die werk wat die leraar doen. Daarom is hy deurlopend beskikbaar om ‘n persoonlike pad saam met jou te stap. Maar dit gebeur nie outomaties en geprogrammmeerd (soos in die huisbesoek van die verlede) nie. Jy moet (wanneer jy behoefte het aan ‘n gesprek met hom) ‘n afspraak reël deur die kerkkantoor of homself te kontak. So ‘n gesprek kan dan óf in die vorm van ‘n huisbesoek óf die vorm van ‘n gesprek in sy spreekkamer aanneem. Of sommer net ‘n kuier in ‘n “coffee shop”.
- En as daar ander, spesifieke dinge is watjy mee rinligting oor nodig het, gryp jy die foon en skakel of die predikant (016 4231205 of 0829272575) of die administratiewe bestuurder by die kerkkantoor (016 4231502). Tussen hulle twee behoort jy gou op koers te kom.
STAP 4: Raak tuis in Coram Deo