
Dalk wil jy net by ons kom kuier.
Dalk is jy op soek na ‘n nuwe geestelike tuiste?
Dan sal jy hieronder inligting kry wat jou sal help om (met ‘n bietjie meer gemak in jou binneste) in te loer by en duidelikheid te kry
of Coram Deo dalk die regte plek vir jou kan wees.
STAP 1: Kuier by Coram Deo… en kyk of dit vir jou kan werk
Mense verskil van mekaar. Ook wat die belewing van hulle geloof aanbetref. Sommige mense soek stilte en gewydheid. Ander soek ‘n “happening”. Nog ander soek net die nabyheid van ander gelowiges. Dis hierdie verskille in belewing wat “spiritualiteitstyle” genoem word.
In Coram Deo is ons baie bewus daarvan dat spiritualiteitstyle verskil. Daarom moedig ons lidmate aan om oop te wees dat mense (byvoorbeeld) aanbidding verskillend kan doen. Party doen dit “bedeesd” en ander uitbundig. Ons wil so ver as moontlik ruimte laat vir alle vorme van geloofsbelewing. Sodat jy met vrymoedigheid ‘n belewenis saam met die Here kan hê wat vir jou voel asof dit pas. Selfs al verskil jou styl van ander s’n.
Binne hierdie groter konteks het ons as gemeente ‘n eie kultuur ontwikkel: informeel, kuier-kuier, ligter liedere, intensiewe lering, “in your face” prediking, ensovoorts. En hierdie kultuur sal nie noodwendig vir jou gemaklik wees nie. Dikwels omdat dit effens anders is as wat jy aan gewoond is.
Daarom is stap 1 om eers net saam met ons te aanbid en te kuier. Sommer vir ‘n hele paar keer. Sodat jy (selfs al is ons manier effens vreemd) tyd kan kry om aan te voel of jy hier gemaklik sal kan word. Enn of ons manier jou geloof sal kan verryk en verdiep. Na ‘n paar keer se kuier, moet jy dan vir jouself vra: “Voel ek gemaklik in Coram Deo?” En: “Sal ek in Coram Deo se manier van doen ‘n tuiste kan vind wat voel of dit pas?”
En as jou antwoord JA is, is dit tyd om die tweede stap te neem.
STAP 2: Kyk of jy aanklank vind by Coram Deo se fokus en visie
“Waaroor gaan ‘n gemeente nou eintlik? Waarmee is en moet ons besig wees?” Dis hierdie vrae wat die leierskap van Coram Deo vir hulleself moes uitsorteer. Veral omdat hulle verantwoordelik is om aan die gemeente koers aan te dui.
Na baie gesprekke hieroor het die leierskap vir hulle uitgesorteer wat die kern is waaroor gemeentewees gaan. Die “core business” van Coram Deo is geloof. Dit gaan vir ons ten diepste oor die totstandkoming van egte (ware) geloof, die ontwikkeling of groei in geloof en die praktiese uitlewing van geloof.
Met hierdie fokus in gedagte is die visie van Coram as volg geformuleer:
Ons doel is om jou te begelei op ‘n pad waardeur jy jou verbind tot en gevestig word in…
‘n Lewende verhouding met God deur Jesus Christus;
- ‘n Groeiprogram wat jou geloof verdiep en jou lewe vernuwe;
- Betekenisvolle,ondersteunende verhoudings met ander Christene; en
- ‘n Persoonlike bediening waardeur jy die gemeente help op-en uitbou
Hiermee sê ons dat ons in Coram Deo glo dat die Here ons geroep het om gelowiges (jou ingesluit) te ontwikkel en te bemagtig sodat elke gelowige (met sy/haar unieke gawes en vermoëns) ‘n unieke bydrae kan maak tot die op-en uitbou van die kerk van Christus. Ons wil gelowiges opbou om mense te wees wat ‘n impak in hulle eie omgewing maak en deur aktiewe, meetbare bedieninge die gemeente help opbou.
Dís ons roeping. Dis waarmee ons wil besig wees. En ons glo dat hierdie visie/fokus tot gevolg sal hê:
- Dat die gemeente sterker word,
- Dat die wêreld bereik word en
- Dat die Here verheerlik word.
Die vraag wat jy moet uitsorteer, is: “Rym hierdie visie met die Woord en kan jy jou daarmee assosieer?” Indien jou antwoord ja is, is jy reg vir stap 3 in die proses om deel te word van Coram Deo.
STAP 3: Doen die admin ding… en word amptelik lidmaat
Daar is minstens 3 redes hoekom dit belangrik is dat jy tog formeel of amptelik deel moet word van ‘n gemeente:
- Die Bybel wys dat gelowiges hulleself reg van die begin af geïdentifiseer het met spesifieke, plaaslik gemeentes. En dat hulle dáár opgebou en uitgedaag is om toegewyde medewerkers in die opbou van die kerk van Christus te wees.
- Die leiers in ‘n gemeente moet weet wie aan die gemeente behoort sodat hulle dit in hul beplanning in ag kan neem. En natuurlik sodat hulle weet met wie om te kommunikeer.
- Ervaring wys dat ‘n keuse vir lidmaatskap ‘n beslissende oomblik in baie mense se geloofsreis kan wees. Dit bied ‘n geleentheid om opnuut ‘n verbintenis te maak wat jou uit die wegspringblokke kry of wat jou verbintenis aan Christus verdiep.
Wanneer jy dan besluit om lidmaat te word, werk dit soos volg:
Jy kry by die gemeentesentrum die vorm waarop jy aandui dat jy lidmaat van die gemeente wil word. Nadat jy dit voltooi het, plaas jy dit in die kollektebord of besorg dit by die kerkkantoor.
Sodra die aansoekvorm ontvang word, word jou lidmaatskap van ander gemeentes af aangevra en word jy (sodra ons dit ontvang het) formeel lidmaat van die gemeente.
Nadat jou inligting ontvang is, sal iemand by jou besoek aflê om te gesels oor die visie, missie en unieke karakter van Coram Deo.
Deur hierdie prosedure word jy amptelik op die register van Coram Deo se lidmate geplaas. Ons sal dan vanuit die kerkkantoor met jou kommunikeer soos en wanneer nodig.
(PS: Indien jy na die gesprek besluit om nie formeel lidmaat van Coram Deo te word nie, sal ons jou help om ‘n buurgemeente te vind waarin jy wel ‘n tuiste sal kan vind en waar in jou unieke behoeftes voorsien kan word.)
STAP 4: Raak tuis in Coram Deo
Dis tog goed om te weet hoe dinge in Coram Deo werk. Dan kan jy net makliker tuis raak in hierdie familie van gelowiges. Daarom enkele opmerkings wat kan help:
- Coram Deo is ook maar soos ander gemeentes. Ons is al so gemaklik met mekaar dat ons soms vergeet om nuwe lidmate doelbewus en aktief te help tuis word. Daarom wil ons vra: Wurm jouself in! Drink op Sondae na die erdiens saam tee en maak kennis met van die lidmate. Maak ‘n kuier afspraak met die leraar en leer hom ken. Bied aan om te help waar jy kan. Alles net om jouself tuis te maak tussen en saam met die mense van Coram Deo.
- Wanneer dit by die versorging van lidmate kom, dink ons ietwat anders as ander NG Gemeentes daaroor. En die grootste verskil is dat ons glo dat jy persoonlik verantwoordelik is om na jou geloofslewe te kyk en seker te maak dat dit dinamies en sterk bly. Daarom is die leiers van die gemeente verantwoordelik om toe te sien dat daar geleenthede is wat jy kan gebruik. En hulle organiseer aktiwiteite wat hierdie doel dien. Dis egter jou verantwoordelikheid om dit te gebruik. En as jy ‘n spesifieke behoefte het waarin nie voorsien word nie, kontak jy die leraar en vra dat hy moet help.
- Die gemeente word ook versorg deur die werk wat die leraar doen. Daarom is hy deurlopend beskikbaar om ‘n persoonlike pad saam met jou te stap. Maar dit gebeur nie outomaties en geprogrammmeerd (soos in die huisbesoek van die verlede) nie. Jy moet (wanneer jy behoefte het aan ‘n gesprek met hom) ‘n afspraak reël deur die kerkkantoor of homself te kontak. So ‘n gesprek kan dan óf ‘n kuier in ‘n “coffe shop” óf in die vorm van ‘n huisbesoek óf die vorm van ‘n gesprek in sy spreekkamer aanneem.
En as daar ander, spesifieke dinge is wat jy meer inligting oor nodig het, gryp jy die foon en skakel of die predikant (082 832 6079) of die administratiewe bestuurder by die kerkkantoor (016 4231502). Tussen hulle twee behoort jy gou op koers te kom.